KWAZULU-NATAL. – ’n Twaalf-jarige seun, in graad 3 in Laerskool Parkgate, is Donderdagmiddag dood by ’n woning in Neptunelaan, Rietrivier, aangetref. ’n Baba is ook in die huis gevind. Inwoners het aan beamptes gesê dat die seun glo vir twee dae alleen gelaat is om na die baba om te sien nadat sy ma nie van ’n gebedsbyeenkoms af teruggekeer het nie.
Volgens inligting het lede van Reaction Unit South Africa (Rusa) verskeie oproepe van bekommerde inwoners ontvang wat dringend om hulp gevra het. Met hul aankoms het reaksiebeamptes glo gesien dat ’n voertuig van die perseel af weggery het. Die voertuig is gevolg tot by ’n plaaslike kliniek, waar die kind met sy aankoms daar dood verklaar is. Daar word beweer dat hy bottels moes insamel en verkoop om kos vir die baba te koop. Die seun is laas lewend gesien toe sy pa na sy werk toe vertrek het. Hy het ook kort voor die voorval telefonies met sy pa gepraat.
Die omstandighede van die seun se dood word tans ondersoek. Verdere besonderhede word hangende die ondersoek weerhou.





