Brekende Nuus
Nuus

7-jarige ná 14 uur lewend uit puin in Oekraïne gered

Foto: ДСНС України

OEKRAÏNE. – Reddingswerkers het Sondagaand ’n 7-jarige seun, genaamd David, lewend uit die puin van ’n woonstelgebou in Dymer, noord van Kyiv, gehaal nadat hy sowat 14 uur vasgekeer was. ’n Russiese hommeltuig het die vyfverdiepinggebou vroeg die oggend getref terwyl inwoners nog geslaap het.

Wolodimir Zelenski, die Oekraïense president, het Sondagaand gesê die seun ontvang mediese sorg. Volgens The Independent was hy in ’n stabiele toestand. Die koerant berig dat die seun kalm met reddingswerkers gepraat en hulle herhaaldelik verseker het dat hy oukei is. Reddingswerkers het ook ’n 79-jarige vrou lewend uit die puin gehaal. Sy is hospitaal toe geneem.

Meer as 130 mense was by die reddingsoperasie betrokke. Nuwe lugaanvalwaarskuwings het spanne gedwing om telkens die soektog te onderbreek. Teen Maandagoggend 23 November het die dodetal in Dymer volgens Tymur Tkachenko, hoof van die Kijif-streek se militêre administrasie, tot 11 gestyg. Reddingspanne was steeds besig om vas te stel of nog mense onder die puin vasgekeer was.

Kort gelede is ‘n plasing op Oekraïne se staatsnooddiens se Facebook-blad, ДСНС України, gemaak om te sê ‘n vrou met die naam Valentina is ook uit die rommel gered.

Bronne: The Independent, president.gov.ua, ukrinform.net, ДСНС України