WES-KAAP. – Die Drakenstein-munisipaliteit het bevestig ‘n seun, vermoedelik 9 jaar oud, het Saterdagmiddag in die Weltevrede-swembad in Wellington verdrink.
Volgens die munisipaliteit se sosialemediaplasing was lewensredders omstreeks 14:00 aan diens toe hulle opmerk dat ’n kind in die water sukkel. Hulle het vinnig ingegryp en die kind uit die swembad gehaal. Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is dadelik begin en aangehou totdat nooddienste opgedaag het om oor te neem. Ongelukkig kon die mediese span nie die seun red nie en sy dood is op die toneel bevestig.
Die munisipaliteit het hul medelye met die oorledene se naasbestaandes uitgespreek.





