KENIA. – Toetse het die teenwoordigheid van sianied bevestig nadat 15 onverklaarde olifantvrektes die afgelope maand in die Amboseli-ekosisteem voorgekom het.
Volgens die Big Life Foundation is die eerste vrekte op 25 Junie aangeteken. Agt van die olifante het gevrek in gebiede wat deur Big Life se veldwagters gepatrolleer word, terwyl die Kenya Wildlife Service (KWS) altesaam 15 vrektes, insluitend dié in die Amboseli Nasionale Park, aangemeld het.
Die KWS het monsters van verskeie karkasse geneem om die oorsaak van die diere se dood vas te stel. Toetse het die teenwoordigheid van sianied in die monsters bevestig. Die KWS meen sianied is waarskynlik die oorsaak van die vrektes, hoewel verdere toetse nodig is om vas te stel of die vlakke van die gifstof hoog genoeg was om dodelik te wees. Sekere plantspesies kan natuurlik sianied produseer, wat beteken dat die stof ook teen nie-dodelike vlakke in plantvreters kan voorkom. Daar is tans geen duidelike bewys oor waar die sianied vandaan kom en of dit doelbewus in die omgewing beland het nie.
Die jongste olifantvrekte was agt dae gelede. Big Life sê hulle hoop die bedreiging is nou verby, maar die gebiede en olifante word steeds fyn dopgehou. Die organisasie werk saam met die KWS en ander vennote om die bron van die gifstof vas te stel. Verdere inligting sal bekend gemaak word soos wat dit beskikbaar raak.





