VRYSTAAT. – Heilbron se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies ondersoek ‘n saak nadat altesaam 45 skape met ‘n geskatte waarde van R151 000 vanaf ’n plaas by Steynsrus vermis geraak het. Van die skape wat keelaf gesny is, is later op ‘n grondpad gekry.
Brig. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die veediefstalsaak is by Steynsrus-polisiekantoor geopen, waarna die ondersoek deur die spesialiseenheid oorgeneem is. Volgens Frederick Christiaan Joubert (54), ’n boer wat op Somerset Oos-plaas woon, is die tekort Saterdag tydens ’n veetelling by Rietvlei-plaas opgemerk. Vrydag se aanvanklike telling het 186 skape getoon, bestaande uit 85 SA Meat Merino-ooie en 101 SA Meat Merino-lammers. Tydens die telling die volgende dag was daar slegs 69 ooie en 72 lammers op die plaas. Altesaam 45 skape, bestaande uit 16 ooie en 29 lammers, is vermis. Die gesamentlike waarde van die vermiste skape word op R151 000 geraam. Die polisie sê daar word beweer dat van die skape langs die Steynsrus-Arlington-grondpad gevind is, waar hulle, kele afgesny, verspreid gelê het.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, kan AO Henry Greeff by 082 627 7577 bel.