GAUTENG. – Vyf mense is dood en ses gewond toe gewapende verdagtes Sondagoggend vroeg by ’n drinkplek in Zithobeni, Bronkhorstspruit, op aanwesiges losgebrand het.
Brig. Brenda Muridili sê in ‘n verklaring die voorval het omstreeks 01:30 gebeur. Twee mans, wat glo in die gemeenskap bekend is, het die drinkplek binnegegaan en ’n besoeker beveel om sy gelisensieerde vuurwapen te oorhandig. ’n Skoot het na bewering afgegaan en toe mense begin vlug, het die verdagtes lukraak begin skiet. Die wettige vuurwapeneienaar is gewond en sy 9 mm-pistool is gesteel.
Vyf mense is op die toneel dood, terwyl ses beseerdes na nabygeleë mediese fasiliteite vervoer is. Al die gewondes en een oorledene is reeds geïdentifiseer.
Muridili bevestig die gewonde vuurwapeneienaar sal van oortreding van die vuurwapenbeheerwet weens nalatige hantering van ’n vuurwapen aangekla word. Die vyf moordaanklagte en ses van poging tot moord word deur die provinsiale moord-en-roofeenheid ondersoek, terwyl die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad die verdagtes probeer opspoor.