THAILAND. – Minstens ses mense is Vrydag 7 Augustus 2026 dood en verskeie beseer nadat ’n leerling by ’n hoërskool noord van Bangkok begin skiet het.
Die skietvoorval het by Debsirin Nonthaburi-skool in die Bang Kruai-distrik van Nonthaburi-provinsie, noordwes van die hoofstad, plaasgevind. ’n Getuie het vertel dat leerlinge in ’n klaskamer weggekruip het terwyl hulle skote uit ’n ander gebou gehoor het, voordat polisiebeamptes hulle na veiligheid geneem het.
Volgens die polisiewoordvoerder, Trairong Piwpan, is die skutter ernstig beseer in die hospitaal opgeneem, terwyl nog 15 persone beseer is – van wie twee kritiek. Hy het gesê drie onderwysers en drie leerlinge is dood. Die gesondheidsminister Pattana Promphat het egter later die syfer aangepas: hy het gesê 22 mense is beseer, met nege in ’n kritieke toestand.
Luidens aanvullende verslae het die adjunk- binnelandse sakeminister, Polapee Suwunchwee, gesê vyf onderwysers het omgekom en dat die skutter eers sy grootouers by die huis doodgeskiet het voordat hy na die skool toe is waar hy ‘n leerling was.
Thailand se eerste minister, Anutin Charnvirakul, het sy simpatie uitgespreek en gesê hy het amptenare beveel om na die slagoffers om te sien. Volgens Sky News het die eerste minister ook aangedui dat die skutter druk in verband met sy studies ervaar het, wat moontlik as ’n motief kan dien, alhoewel dit nog ondersoek word.
Die polisie glo die vuurwapen is van ’n familielid van die skutter geneem.
Hierdie insident volg ná ’n soortgelyke voorval in Februarie vanjaar, toe ’n 17-jarige ’n vuurwapen van die polisie gesteel en by ’n openbare hoërskool in Suid-Thailand begin skiet het, gyselaars geneem en een persoon gedood het.
Bronne: The Associated Press, Sky News, BBC





