GAUTENG. – Die skoolhoof (58) en ’n administratiewe personeellid (55) van Laerskool Inxiweni in Tembisa, Ekurhuleni, is Dinsdagmiddag in die administrasieblok van die skool doodgeskiet.
Volgens Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse departement van onderwys (GDO), het die voorval omstreeks 17:00 plaasgevind terwyl die skoolhoof, die administratiewe personeellid en ander werknemers besig was met voorbereidings vir ’n vergadering wat later die week sou plaasvind. Kollegas in ’n nabygeleë kantoor het skote gehoor en weggekruip totdat dit veilig genoeg gelyk het om uit te kom. Hulle het daarna die twee personeellede in die gang van die administrasieblok gevind. Nooddienste is ontbied, maar beide is dood verklaar.
Premier Panyaza Lesufi en Matome Chiloane, die GDO-LUR vir onderwys, het die skool Dinsdagaand besoek om die situasie te beoordeel en inligting in te win. Hulle het ook met die families van die oorledenes gepraat. Die departement het aangedui dat psigososiale ondersteuning, insluitend hulp van die Ekurhuleni-Noord-distrik, vanaf Woensdag aan leerlinge voorsien sal word. Werknemerswelstandspanne sal ook die skool besoek.
“Ons is geskok oor hierdie sinnelose en brutale daad wat binne ’n skool gepleeg is, ’n plek wat bedoel is vir onderrig en leer. Ons meegevoel gaan aan die families van die skoolhoof en die personeellid wie se lewens beëindig is. Ons doen ’n beroep op wetstoepassingsowerhede om spoedig op te tree om die oortreder aan die kaak te stel,” het Chiloane gesê.
Die polisie is tans besig met ’n ondersoek na die gebeure.








