‘Skuldgevoel oor my pa se selfdood het amper my lewe verwoes’

Lees ook :

Die skuldgevoel oor my pa se selfdood

Sy is ’n tenger 16. Sy sit op haar bed se rand, ’n glas water in haar hand en ’n berg pille op die spieëltafel. Die briefie is reeds geskryf en in haar ma se bedkassie gesit. Die glimlag, wat sy daagliks op haar gesig plak, het plek gemaak vir hoe sy regtig voel. Skuldig. Gebroke. Uitsigloos.

“Hoe verloor ’n mens op 16 jou lus vir die lewe?” vra Elvira Joubert. Sy sit in haar RVLTN (Revelation)-koffiewinkel in Heidelberg, Gauteng. Sy is ’n suksesvolle sakevrou, gelukkig getroud, ma van twee.

“’n Mens verloor jou lus vir die lewe wanneer jy die vyand se leuens glo,” antwoord sy haar eie vraag, en vertel haar storie. Sy was skaars ’n jaar oud toe haar pa sy eie lewe geneem het. “Nog lank daarna het ek geglo dis mý skuld. Dat ek te ‘moeilik’ was en dat hy daarom besluit het om ons te verlaat.”

Dit was eers op haar troudag dat Elvira besef het presies hoe kwaad sy vir haar pa was. Toe sy in die paadjie afstap kansel toe, het die woede in haar opgestoot. Sy het gedink: “My biologiese pa moes vandag hier gewees het, maar hy is nie.” Gelukkig was stiefpa Gert, wat Elvira “’n engel uit die hemel” noem, aan haar sy. Toe Pa Gert per ongeluk op haar trourok se soom trap, het sy ’n waarheid oor stiefpa’s besef: Hulle kies om óf in jou lewe in te trap óf daaruit.

Sy moes haar biologiese pa vergewe, dít het sy geweet. Toe skryf sy ’n brief. Dit het kwaai begin: “Pappa, vanaand mis ek Pappa, maar ek ken jou nie … Ek weet nie wie jy was nie.” Sy het geskryf dat sy graag sou wou weet hoe hy geklink, geloop en geruik het. En dat sy wonder of hy met haar kinders sou wou speel en hulle sou liefhê. “Of sou Pappa opgee, soos met my?”

LEES OOK: ‘My hart is flenters,’ sê ma oor 12-jarige se selfdood ná boeliegedrag

Verderaan in die brief het haar hart, en haar woorde, sagter geword. Sy het onder meer geskryf: “Ek is jammer dat ek nie kon ‘bye’ sê nie. Jammer ek kon nie vir Pappa van Jesus vertel nie. Ek het gedink ek moes Pappa red, maar vandag weet ek slegs Jesus red.” Dan dié sleutelsin: “Vanaand, met my hele hart, vergewe ek Pappa, ek spreek jou vry.”

Die leemte in haar hart

Maar dit het lank geduur om die leemte in haar hart op die regte manier te vul. Sy vertel: “As ek die horlosie kon terugdraai, sou ek aan my tienerself sê: Moenie jou waarde in ’n man gaan soek nie. Jou ware identiteit lê elders.” Op hoërskool was Elvira omring deur vriende. En nooit sonder ’n kêrel nie. “Ek was die partytjie-meisie. Die ‘lewe’ in die groep. Die hokkiekaptein, nie omdat ek goed was nie, maar omdat ek die gees in die span gebring het.” Sy het altyd gelag, was altyd vrolik. “Maar hierbinne was ek stoksielalleen. Sielsgebroke.”

Sy was 16 toe die destydse Woodstock-fees Heidelberg toe gekom het. “My goeie Christen-ma het my belet om te gaan.” Natuurlik het sy nie geluister nie, en daardie aand het sy haar maagdelikheid verloor. Die ‘morning after’-pil wat sy by die staatskliniek gaan haal het, het nie haar gewete gesus nie. “Ek het so vuil gevoel. Goedkoop en nikswerd.” Omdat sy boonop bereid was om ’n moontlike lewetjie dood te maak, was haar skuldgevoel nog groter. Daarom die poging om haarself om die lewe te bring. “Dis die hart se bedoeling wat saak maak, en my bedoeling was verkeerd.” Tog het sy toe reeds van beter geweet. Lank voor die Woodstock-makietie, en jare daarna.

“Op ons wittebrood het alles eensklaps verander,” onthou sy. Sy en haar man Christo het daardie oggend in die kombuis gestaan. “Ek, met ’n sigaret in die hand, terwyl ek drank in my koffie wou gooi. Skielik was daar ’n geweldige brandgevoel in my hart, dit was soos ’n heilige vuur wat in my brand.” Sy het vir Christo gevra: “Waarmee is ons besig? Is hierdie regtig die soort lewe wat ons wil lei?” Met dié woorde het sy omgedraai en haar ma gebel. Sy wou weet wat die vreemde gevoel in haar hart kon wees.

LEES DIE VOLLE ARTIKEL HIER: https://lig.co.za/die-skuldgevoel-oor-my-pa-se-selfdood-het-amper-my-lewe-verwoes/

Die oorspronklike artikel is geskryf deur Anita van Niekerk vir LiG.


Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief