KWAZULU-NATAL. – Ferdie Visser, wat voorheen aangehou is, is steeds op vrye voet. Hy word gesoek in verband met die voorval waar die visserman, John Matambu, ter see vermis geraak het. Privaatspeurder Brad Nathanson sê hy is vasbeslote om die saak nie met rus te laat nie.
Nathanson, met ‘n aanhang van 100 000 mense op sosiale media, sê hy het reeds verskeie leidrade ontvang sedert hy die saak onder die publiek se aandag gebring het, maar geeneen daarvan het nog tot die inhegtenisneming van Visser gelei nie. Hy glo vas dat iemad weet waar hy skuil en dat dié persoon kies om te swyg. Intussen wag Matambu se gesin steeds op geregtigheid. ‘n Dringende beroep word op die publiek gedoen om Visser se foto so wyd moontlik te versprei. Nathanson sê dat één plasing die verskil kan maak as dit by die regte persoon beland. Enigiemand met inligting, hoe onbeduidend dit ook al mag lyk, word versoek om die owerhede onmiddellik te kontak of om hom direk by 083 250 2007 te nader.
Matambu, oftewel John Edward Dercksen, het op 16 Maart te Sodwana vermis geraak. Visser was glo saam met Matambu op die boot Magnum Too. Alhoewel die gebrande boot in Mosambiek opgespoor is, het Visser vir die gereg gevlug. Hy is egter opgespoor en in hegtenis geneem, waarna hy aan Suid-Afrika uitgelewer is. Tydens sy hofverskyning is ‘n saak van bedrog teen hom teruggetrek, maar hy was steeds vir ‘n parooloortreding in aanhouding.
Visser het volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid gemeenskapsdiens buite die tronk verrig en het hy nie ná aanhouding teruggekeer nie. Dit is egter onbevestig.
Nuusflits het voorheen berig Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, het gesê Visser het op aanklagte van bedrog en alternatiewelik diefstal in die hof verskyn. Ná ‘n eerste hofverskyning is die saak na die Direkteur van Openbare Vervolging verwys om vas te stel of die korrekte prosedures vir Visser se verskyning in die Mbazwana-landdroshof gevolg is. Dit het nie gebeur nie en die saak teen hom is teruggetrek.
Bronne: Brad Nathanson Investigations, SAPD, NVG, AfriForum Privaatvervolgingseenheid en vorige beriggewing


