KWAZULU-NATAL. – Visserman John Matambu, oftewel John Edward Dercksen, het op 16 Maart te Sodwana vermis geraak. Ferdie Visser was as die persoon wat saam met Matambu op die boot Magnum Too was, gesoek. Visser het volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid gemeenskapsdiens buite die tronk verrig en het nie ná aanhouding teruggekeer nie. Dit is egter onbevestig.
Dercksen is steeds vermis. Alhoewel die gebrande Magnum Too in Mosambiek opgespoor is, het Visser vir die gereg gevlug, maar is opgespoor en in hegtenis geneem, waarna hy aan Suid-Afrika “uitgelewer” is. Tydens sy hofverskyning is ‘n saak van bedrog teen Visser teruggetrek, maar hy was steeds vir ‘n parooloortreding in aanhouding.
Adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op 4 Oktober ‘n brief aan die direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal gestuur. Ontvangs is vir die brief erken en daar is te kenne gegee daar sal binne sewe dae terugvoering wees, maar dit is reeds meer as 16 dae sonder enige terugvoer. Die eenheid wat namens Cherie Eilertsen, Reinette Swart en Regard Scott in die saak optree, het nou ‘n tweede skrywe gedateer 1 November gerig.
“Ons vertrou dat u sal aanvaar dat dit nie onredelik is om te vra dat u vriendelik u onderneming sal nakom en ons ‘n antwoord sal gee nie. As gevolg van wat infra bespreek word, is dit van die uiterste belang om ingelig te word indien verdere ondersoek aangevra is en of die ondersoek op “internasionale vlak” begin en gevorder is. Ons aanvaar dat die onwettige “uitlewering” die enigste belemmering vir ‘n vervolging in die Mbazwana-saak, MAS 01/03/2024, was.”
Die saak in Mbazwana het aanklagte van bedrog, diefstal en die opsetlike saakbeskadiging van die huurboot behels.
“Tydens ‘n gesprek met ons kliënt op 25 Mei 2024 het u advokaat, Sewparsat, aangedui dat “wanneer die saak op 21 Mei teruggetrek word, hy steeds effektief in aanhouding bly…die opsie om weer vir parool oorweeg te word, sal slegs iewers in Augustus 2025 wees.””
“Alhoewel dit nie bevestig is nie, deel ons ons inligting met u dat mnr. Ferdi Visser, na ons vorige korrespondensie, uit die tronk ontsnap het. Ons verstaan dat Visser van die Qalakabusha-gevangenis naby Empangeni na ‘n korrektiewe dienssentrum in Mpumalanga oorgeplaas is. Dit het sonder die medewete van kapt. Mnguni, die huidige ondersoeker van die Mbazwana-saak, gebeur. Die beskuldigde het glo, terwyl hulle gemeenskapsdiens buite die gevangenis verrig het, versuim om terug te keer.”
“Bevestig asseblief of Visser ‘n gevangene is of nie. Indien nie, het hy óf ontsnap en ‘n soektog moet aan die gang wees, óf hy is vrygelaat. Alhoewel ons van mening is dat hy as ‘n verdagte in ‘n moordaak beskou moet wees, bly hy ‘n verdagte op Mbazwana MAS 01/03/2024 en ook Nelspruit MAS 07/09/2015, wat ‘n aanklag van seksuele aanranding behels.”
“Ons is vol vertroue dat u die implikasies van ons onbeantwoorde brief sal verstaan oor vrae oor hierdie aangeleentheid en dat u sal saamstem dat daar geen geloofwaardige verduideliking is waarom ons kliënte steeds nie ‘n vorderingsverslag ontvang het nie. Ons herhaal weer ons regsopdrag en versoek dat u kantoor ons op hoogte hou van enige verwikkelinge wat tot hofverskynings kan lei.”
Nuusflits het voorheen berig Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, het gesê Thomas Fredrik (Ferdie) Visser het op aanklagte van bedrog en alternatiewelik diefstal, in die hof verskyn. Na ‘n eerste hofverskyning is die saak na die direkteur van openbare vervolging verwys om vas te stel of die korrekte prosedures gevolg is om Visser se verskyning in die Mbazwana-landdroshof te verseker. Na die ondersoek en oorweging van die bedrogsaak teen Visser is die saak teruggetrek. Visser was nie in ooreenstemming met die wet op uitlewering voor die hof gebring nie. Verdere ondersoek ten opsigte van die bedrogsaak is ook uitstaande. Zululand Observer het berig die aanklagte teen Visser is voorlopig teruggetrek. Die saak is in Visser se afwesigheid aangehoor, aangesien hy sy kop herhaaldelik van Qalakabusha- korrektiewe fasiliteit tot by die Empangeni-landdroshof aan die binnekant van die polisievangwa gestamp het. Die ondersoek van die polisie duur voort.
Nuusflits het polisie- en NVG-kommentaar gevra.
Bron: Getekende skrywe van adv. Gerrie Nel, hoof van die AfriForum-privaatvervolgingseenheid






