WES-KAAP. – Graham Howes (38) van Bloubergstrand is laas opgemerk toe hy Sondag omstreeks 13:00 naby Eden on the Bay, Bloubergstrand, vlieërplank gery het. Hy het ‘n swart duikpak aangehad en sy vlieërplank is blou-en-swart, met ’n wit seil met rooi skryfwerk. Kamerabeelde van plaaslike veiligheidsdienste bevestig dat Howes ná 13:00 Sondag nog in die water gesien is.
Craig. Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê in ‘n verklaring ‘n uitgebreide see-, lug- en kuslynsoektog is tot vroeg vanoggend (Maandag) gedoen en dit duur voort. Nadat Howes nie soos verwag is Sondag laatmiddag na sy familie teruggekeer het nie, het hulle sy afwesigheid aangemeld. Die NSRI-Melkbosstrand is kort voor 20:00 ontbied, waartydens verskeie diensspanne van NSRI-Melkbosstrand, Tafelbaai, sowel as Yzerfontein en die waterreddingsnetwerk gelyktydig soektogte op land, lug en see uitgevoer het. ‘n Hommeltuig van die gesondheidsdepartement se Metro Rescue is ook gebruik. Plaaslike inwoners, buurtwagte en die vlieërplankgemeenskap het ook by die soektog aangesluit.
“Ons doen ’n beroep op die plaaslike gemeenskap asook die vissery-, seil- en maritieme sektor tussen Bloubergstrand en noordwes langs die Weskus tot by Dasseneiland en verder om op die uitkyk te wees.” Volgens Lambinon wys soekroosters, wat weer, wind en seestrome in ag neem, dat die soekgebied vanaf Eden on the Bay na die see in ’n noordwestelike rigting strek, tussen Bloubergstrand en Robbeneiland en verder verby Bokpunt tot in die omgewing tussen Yzerfontein en Dasseneiland.
Lambinon bevestig die polisie het ‘n formele ondersoek geopen. Hy sê: “Alle moontlikhede word in hierdie voortgesette operasie ondersoek.”





