*PERSVERKLARING
Sol Plaatje-munisipaliteit is meer as R54 miljoen se onbestede toelaebefondsing kwyt.
Isak Fritz, DA Noord-Kaapse premierskandidaat, het gesê: “Sol Plaatje moet dringend infrastruktuur opgradeer, vervang en uitbrei om ‘n groeiende bevolking te akkommodeer. Sol Plaatje het groot bedrae geld nodig om dit te doen, maar hulle kon egter nie miljoene wat juis vir hierdie doel toegeken is, bestee nie.”
“Die munisipaliteit is afhanklik van toelaes om broodnodige kapitaalinfrastruktuurprojekte te implementeer. Dit is deels te danke aan ‘n langtermyn finansiële plan, wat bepaal dat slegs kapitaaltoelaes gebruik kan word om kapitaalprojekte op kort- tot mediumtermyn te finansier. Die DA was weens hierdie klousule gekant teen dié plan, maar dit is desondanks deur ‘n ANC-meerderheid deurgedruk.”
“Terwyl Sol Plaatje nou ‘n beduidende finansieringskrisis in die gesig staar, is dit nie net geld wat op die spel is nie.”
“Die grootste, en mees katastrofiese gevolg van Sol Plaatje se versuim om sy toelaebefondsing reg te bestuur, is die R35 miljoen wat weggeneem is van die Streeksgrootmaatinfrastruktuurtoelaag. Hierdie geld was bedoel is vir die opgradering van waterinfrastruktuur. Die Geïntegreerde Stedelike Ontwikkelingstoelae, wat bedoel is om waterpype op te knap, is ook met R11 miljoen verminder.”
“Sedert November 2021 was daar minstens twaalf waterafsluitings van munisipale watertoevoer. Waterverliese staan op 60 persent, en beduidende waterherstel- en opgraderingswerk word benodig.”
“Ander projekte wat nou vertraag sal word, sluit die opgradering van die Hadison Park-substasie in. Die substasie ondervind gereeld kragonderbrekings ná beurtkrag. Daar kan nie daarop staatgemaak word om toekomstige ontwikkeling in sy diensgebied moontlik te maak nie. Sy Geïntegreerde Nasionale Elektrifiseringsprogram toekenningsbefondsing is met meer as R10 miljoen verminder.”
“Die DA het Sol Plaatje voorheen by verskeie geleenthede gewaarsku dat die uitstel van implementering van die verskillende stappe, veral in die opgradering van die waterinfrastruktuurprojek, tot ernstige gevolge sal lei. DA-raadslid, Chris Whittaker, het vir Sol Plaatje gevra of ‘n kennisgewing deur die tesourie uitgereik is oor hulle die onbestede fondse terugneem en, indien wel, waarom dit nie aan die raad voorgelê is nie. Dit is ‘n vereiste van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Geen reaksie is ontvang nie.”
“Die item is tot 30 Mei uitgestel vir verdere bespreking in die raad. Die DA sal daarop aandring dat die ANC-bestuurde munisipaliteit, wat nie daarin geslaag het om die GOP te implementeer en die toelaegeld betyds te bestee nie, aanspreeklik gehou word.”
*PERSVERKLARING
*HIERDIE PERSVERKLARING IS DEUR DIE DA BETAAL
Lees ook: Israel dood per ongeluk vyf eie soldate





