Charmaine Visser, ‘n sportfotograaf, het al foto’s geneem by haar dogters se sportbyeenkomste, tot by die Olimpiese Spele.
“Ek het ongeveer sewe jaar gelede met sportfotografie begin omdat my drie dogters in verskillende skole aan sport deelgeneem het en boonop goed was daarmee. Ek sou hulle afneem en sommer die res van die span ook en dan die foto’s net weggee. Ongeveer vier jaar gelede het ek besef daar is ‘n mark vir sportfoto’s.”
Charmaine vertel sy fokus graag op emosie wanneer sy sport- en aksiefoto’s neem.
“Dit het nie net oor die foto’s gegaan nie, maar oor die persoonlikheid daar agter. Met my dogters se sport kon ek ‘n wye netwerk van kennisse opbou vir wie ek foto’s kon neem.”
Die foto’s is eers op ‘n blad geplaas en ouers het mekaar vertel waar hulle sportfoto’s van hulle kinders kon kry. Vandag is dit nie meer ‘n blad nie, maar ‘n besigheid.
“Dit was ook nie net iets wat in my skoot geval het nie. Ek moes leer oor akkreditasie en hoe ek nie bloot net foto’s by elke geleenthede kon neem nie. ‘n Paar jaar gelede het ek toevallig ‘n aksiefoto van ‘n atleet wat ‘n rekord breek, geneem. Nie een van die ander bykans nege fotograwe wat die dag teenwoordig was en akkreditasie gehad het, het ‘n foto gehad nie. Ek het wel die foto gehad en dit is gebruik. Daar is met nuwe oë na my gekyk, diegene wat my voorheen uit die stadions gehou het, het my toe toegang gegee.”
Charmaine vertel aan Nuusflits mediahuise het haar gemotiveer om akkreditasie en toestemming te kry om die Olimpiese Spele by te woon.
“Aangesien van my foto’s oral in publikasies verskyn het, het ek sowat ‘n jaar voor die Spele reeds akkreditasie ontvang. Op 1 April het ek ‘n e-pos van die Olimpiese komitee gekry wat my gelukwens en sê ek is goedgekeur om Frankryk toe te gaan as fotograaf. Ek is so mooi deur hulle en SASCOC behandel, ek het einltik soos ‘n professionele fotograaf gevoel.”
As vryskutfototgraaf het Charmaine gespaar vir haar kostes in Frankryk.
“Ek kon self besluit in watter een van die geakkrediteerde hotelle vir die media ek wou bly. Ek het die hele ondervinding uiters professioneel gevind. Ons het deurentyd toegang tot aanlyn kommunikasie gehad. Daar was selfs moets en moenies en ‘n gedragskode.”
Met haar ondervinding het Charmaine besluit om op atletiek te fokus.
“Aangesien dit my eerste keer by die Olimpiese Spele was, was dit ‘n leerskool vir my. Daar was oggend- en aandsessies. Ek kon met ‘n gratis reiskaart wat aan ons voorsien was, tussen die sessies, op enige vervoermiddel in Parys klim en die stad van liefde verken. Die vervoerstelsel is puik. Ek was nog nooit in Parys nie en wou myself knyp om seker te maak dat ek nie droom nie.”
“Ek het deur die jare spesiale kontak met afrigters en atlete gemaak en kon ander tipe foto’s neem. My fokus was op die span. Ek het gekies om naby die klok wat elke wenner kon lui, te sit. Ek het elke liewe atleet afgeneem en op die ou end meer as 100 000 foto’s gehad. In die stadion het ek in die skare na die Suid-Afrikaanse vlag gesoek, daarheen gegaan, vriende gemaak en foto’s geneem.”
Om dit vir haar kinders makliker te maak om haar in die skare op televiesie uit te ken, het Charmaine ‘n SA-vlag oor die kameralens gebind.
“Met die wen van die silwermedalje in die aflositem deur die SA-span, het ‘n ander fotograaf my vlag gegryp en na die atlete gegooi om die atlete se aandag vir ‘n foto te trek. My vlag het by Akani Simbini beland. Dit was ‘n trotse hoendervel ondervinding. Ek wou ‘n paar keer vir die atlete skree, dan onthou ek die gedragskode. Daar is nie genoeg woorde om die ondervinding van meer as 80 000 ondersteuners in die stadion wat vir die atlete skree, te beskryf nie.”
Pryse van eetgoed het Charmaine verstom, maar haar nie gekeer om elke dag ‘n gunstelingeetding te geniet nie.
“Natuurlik was daar kos en ‘n snoepwinkel vir ons fotograwe, maar ek wou nie die atletiek verlaat nie. Ek het in die oggend by die hotel geeët en dan versnapperinge ingepak vir die dag. Wanneer ek laataand of vroegoggend sommer die 2 km hotel toe te voet afgelê het, het ek maar die 6 of 7 euros vir ‘n klein McDonalds-kaasburger of ‘n koppie koffie betaal. Wat ek glad nie gemis het nie, was om elke oggend ‘n fantastiese stroopwafel by Starbucks te kry.”
Die fotograwe het elke oggend by die mediasentrum bymekaargekom en dan vervoer na die stadion gekry.
“Ek het nie geweet Europa kan so warm word nie. Dit was 40 grade Celsius, maar ons het darem met busse met lugversorging gery.”
Om foto’s by die Olimpiese Spele te kon neem, is vir Charmaine ‘n droom wat waar geword het.
“Die atmosfeer was fantasties en almal was so vriendelik. Die vrywilligers wat by die Spele gewerk het, was almal in dieselfde klere in pastelkleure geklee. Daar was orals baniere en vlae en die hele Parys was so mooi getooi. Orals waar ons ingegaan het, is ons sakke geskandeer. Ek het so veilig gevoel, selfs in die oggend 01:30 wanneer ek hotel toe loop.”
“My hotelkamer was baie basies, maar dit het nie saak gemaak nie. Dit was netjies en ek het sommer uit my tas gelewe en werklik net daar geslaap.”
Elke atleet wat by die Spele was, was vir Charmaine belangrik.
“Of ‘n atleet nou deurgedring het of nie, ek het gesorg dat ek foto’s neem en veral saam met hulle afrigters. Ek het ook heelwat foto’s geneem van waar atlete in gebed staan.”
Charmaine was nie by die opening van die Spele nie. “Ek het wel kontak gehad met die ander fotograwe teenwoordig. Ek kyk op na hulle, hulle het my so mooi ontvang en laat welkom voel.
“Dit was fantasties en ek sal definitief weer wil gaan. Ek het nie die woorde om alles wat ek beleef het te verduidelik nie, maar voel geeërd en geseën dat ek kon gaan. Ek het met die mediahoof van Atletiek SA gepraat en hy het vir my gesê hy wens al die passievolle fotograwe kon dit ervaar.”
“Ek het die dae afgetel en was teleurgesteld met elke dag wat verby is. Ek gaan hard werk en hoop ek sal weer in 2028 die Spele kan bywoon. Ek wil graag my foto’s beskikbaar stel en ‘n aanwins wees.”