Komende Saterdag 21 Desember vind die rematch van ‘n geveg wat sewe maande gelede gebeur het, plaas. Die geveg sal beskikbaar wees op DAZN in Suid-Afrika. Die hoofkaart begin om 17:30 en sal weer in die Kingdom-arena in Riyadh, Saudi-Arabië, plaasvind.
In die eerste geveg het Usyk van die Oekraïne, die voormalige cruiserweight-kampioen, almal verbaas toe hy die 6-vt.-9 reus van ‘n Brit, Tyson Fury, amper in die negende rondte uitgeslaan het.
Dit was ‘n geveg vir die geskiedenisboeke tussen twee meesters van die spel, wat kort-kort hul strategie aangepas het om die ander te uitoorlê. Na 12 uitputtende rondtes is Oleksandr Usyk gekroon as die verenigde swaargewigkampioen en hy het weggeloop met al die belde.
Tyson Fury glo dat hy die geveg deur sy vingers laat glip het, omdat hy dit te veel geniet het en harder kon druk om skade aan sy opponent te berokken. Hy verklaar dat hierdie keer anders gaan wees, en dat hy Usyk gaan uitklop voor die 12 rondtes verby is.
Alhoewel Usyk die oudste van die twee is, het hy verreweg ‘n skoner leefstyl buite die kryt gehad. Sommige glo dat Fury se beste dae verby is, en dat sy geskiedenis van drank- en dwelmmisbuik, sowel as al die skade van vorige gevegte (veral die drie teen Deontay Wilder), te veel myle op sy klok gesit het. Ander sê weer dat as hy vir hierdie geveg gefokus is, hy die regte aanpassings sal maak en vir Usyk sy eerste professionele verloor op sy boksrekord sal gee.
Wie dink jy gaan dié keer wen?