WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het vyf maande gelede ’n spesiale teenkapingseenheid op die been gebring om die toename in voertuigkapings in Khayelitsha, Macassar, die Strand en die omliggende gebied te bekamp. Die eenheid, bestaande uit uit Metro-polisie en wetstoepassingsbeamptes, het sedert November 2025 reeds 141 gesteelde voertuie teruggekry en 37 verdagtes in hegtenis geneem.
JP Smith, DA-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê dat die inisiatief nie net Stadsvoertuie beskerm nie, maar ook ’n wyer impak het. Volgens Smith sluit die 141 teruggevinde voertuie 11 van Die Stad, drie van ander staatsinstansies, drie vragvoertuie en 124 privaat voertuie in. In ’n onlangse voorval op 22 April is ’n Stadsafleweringsvoertuig wat in Khayelitsha gekaap is, suksesvol opgespoor en teruggevind. Die eenheid werk nou saam met die Stad se opsporingsdiensverskaffer, die polisie en ander rolspelers. Danksy dié samewerking het Makhaza-polisie ’n afname van 66% in kapings in die afgelope kwartaal aangemeld.
Smith sê hoewel die eenheid vinnig op voorvalle reageer, dui die omvang van die probleem op moontlike georganiseerde misdaadnetwerke. Hy beklemtoon dat sterker optrede deur die strafregstelsel nodig is om werklik die probleem hok te slaan.






