WES-KAAP. – ’n Bejaarde egpaar is Sondagmiddag gered nadat hulle in erge hitte op ’n staproete naby Porterville vasgeval het. Tydens die operasie is nóg ’n paartjie op dieselfde roete gevind wat hulp nodig gehad het.
Wilderness Search and Rescue (WSAR) sê Donderdag in ‘n sosialemediaplasing die bejaarde egpaar het omstreeks 09:00 begin stap, maar het later die noodnommer geskakel toe hulle die roete byster geraak het en die hitte hulle oorweldig het. Reddingspanne is na die 22Waterfalls-roete gestuur.
’n Reddingshelikopter van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, saam met die Air Mercy Service, is ontplooi om hulle op te spoor. Die 68-jarige man het tekens van hitte-uitputting en ontwatering getoon. Hy is op die toneel behandel en daarna vir verdere mediese sorg na ’n landingsone gevlieg. Sy vrou is ook per helikopter na veiligheid geneem.
‘n Paramedikus het te voet na nóg ’n paartjie op dieselfde roete beweeg, waarna hulle kos en water ontvang het en veilig begelei is. Almal was kort ná 18:00 Sondagaand veilig van die roete af.
Reddingsdienste waarsku dat warm weer gevaarlik kan wees. Stappers moet vroeg begin, genoeg water saamneem en hul roetes goed beplan. Indien nood ervaar word, kan 021 937 0300 gebel word.
Photos by Wilfred Turner and Charl Nieuwoudt





