WES-KAAP. – Twee jong stappers moes Vrydagaand uit ’n benarde situasie op Duiwelspiek gered word, nadat hulle vir byna vier uur op ‘n smal rotslys vasgekeer was.
Volgens Wilderness Search and Rescue (WSAR) het die twee, onderskeidelik 22 en 20 jaar oud, vroeër die dag vanaf Rhodes Memorial vertrek met die doel om die uitdagende Eerste Waterval-ravynroete aan te pak. Hulle het egter later besluit om om te draai, maar in plaas daarvan om hul oorspronklike roete terug te volg, het hulle probeer om na ’n ander rotsrif te beweeg en teen ’n steil krans af te klim, ’n besluit wat hulle in groot gevaar geplaas het. Die vroulike stapper het op ’n rand van ongeveer een meter breed tot stilstand gekom, terwyl haar metgesel gegly en op ’n baie smal rotslyusie van sowat 10 cm beland het. Met geen veilige pad vorentoe of terug nie, het die man hulp ontbied deur die noodnommer te skakel.
Reddingspanne, insluitend ervare toudeskundiges en bergklimmers, is ontplooi, maar die moeilike terrein het die operasie bemoeilik. Brent Russel van Mountain Club of SA – Search And Rescue, sê die man was in daardie stadium baie onstabiel en naby daaraan om te val. In ’n noukeurig beplande reddingspoging het ’n redder van bo afgeklim, die man veilig in ’n harnas vasgemaak en hom na veiligheid begelei. Daarna is dieselfde proses gevolg om die vroulike stapper van die berg af te bring. Albei stappers was koud en uitgeput, maar is veilig van die berg af gehelp. Die operasie is laat die aand suksesvol afgehandel.
WSAR waarsku dat roetes soos die Eerste Waterval-ravyn nie ligtelik aangepak moet word nie en dat verkeerde besluite, soos om teen onbekende afdraandes te probeer afklim, lewensgevaarlik kan wees. Dié reddingsdiens bedank Delta Search & Rescue, HAMNET, High Angle Rescue & Access, K9 Search and Rescue Association of South Africa, Mountain Club of SA – Search And Rescue, Off-Road Rescue Unit – ORRU, SARZA – Western Cape, The Hikers Network en Trail SAR vir ondersteuning tydens die operasie.





