GAUTENG. – Nicola Engelbrecht (23), wat op 5 Mei oorlede is, se lewe word deur die Universiteit van Pretoria se fakulteit natuur- en landbouwetenskappe as ‘n nalatenskap van inspirasie en hoop beskryf.
Engelbrecht het in 2021 met agt onderskeidings gematrikuleer en was ook aktief in sport en musiek. Sy het in 2022 by die Universiteit van Pretoria begin studeer en is later verkies tot die Erica-koshuis se huiskomitee, waar sy as ’n natuurlike leier beskryf is. In haar tweede jaar is sy met breinkanker gediagnoseer en moes sy operasies en behandeling ondergaan, maar het steeds met haar studies voortgegaan.
Ten spyte van verdere behandeling in haar finale jare het sy haar BSc-graad in 2024 voltooi en haar honneursstudie in 2025 voortgesit. Die universiteit sê sy het haar siekte met waardigheid hanteer en verkies om dit nie wyd bekend te maak nie, terwyl sy gefokus het op haar studies en haar droom om by kankernavorsing betrokke te wees.
Engelbrecht, ‘n briljante student, is postuum tydens die universiteit se herfsgradeplegtigheid met haar honneursgraad in bioinformatika (met onderskeiding) bekroon. Volgens die fakulteit het sy met energie, intelligensie en deursettingsvermoë geleef en ’n diep indruk op dosente en medestudente gemaak. Haar honneursnavorsing het gefokus op rekenaargebaseerde kankergenomika en die voorspelling van genetiese variante se moontlike skadelikheid in borskankergene. Sy het onder meer bevind dat geen enkele rekenaarmodel alleen gebruik behoort te word nie, maar dat ’n kombinasie van metodes beter akkuraatheid lewer.
Sy word oorleef deur haar ouers, broer, verloofde en grootouers, wat volgens die fakulteit deel in die trots oor haar merkwaardige lewe. Die fakulteit sê indien sy self ’n laaste boodskap kon los, sou dit een van hoop wees: om aan te hou glimlag en te onthou dat die lewe kosbaar is.
Druk hier om meer te lees.





