Suid-Afrika is gisteraand voor die oë van die wêreld as ‘n land van geweld met ‘n sukkelende ekonomie, inploffende infrastruktuur en algemene stagnering ontbloot. Só sê dr. Corné Mulder, VF Plus-leier.
Dit was die resultaat van die gesprek tussen presidente Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika en Donald Trump van Amerika. Dit was “pynlik” om te aanskou, sê Mulder.
“Ek het ’n week gelede gewaarsku dat, in die lig van pres. Trump se uitsprake oor Suid-Afrika en die terugstuur van Suid-Afrika se ambassadeur, ’n oorhaastige ontmoeting tussen Ramaphosa en Trump voortydig is. Hierdie kon nie ’n gewone gesprek wees tussen leiers soos ander lande die afgelope tyd met Trump gehad het nie.”
Mulder sê in hierdie geval moes dit voorafgegaan gewees het deur gesprekke op amptenaarsvlak en minder politici ten einde eers te poog om ’n klimaat vir ’n sinvolle gesprek te skep. “Pres. Ramaphosa het dit blykbaar nie nodig geag nie. Ná gisteraand weet die hele wêreld dat Suid-Afrika ‘n land is waar vryelik en gereeld gedreunsing word dat Afrikaners en boere vermoor moet word (Kill the Boer, Kill the Farmer). Dat Suid-Afrika ‘n land is waar Afrikaners en ander minderhede geboelie, afgeknou en deur rasgegronde wetgewing benadeel word.”
Mulder sê die VF Plus wil weet waarom dit vir pres. Trump nodig moes wees om onder die fokus en spreiligte van die wêreld te vra waarom Julius Malema nog nie in hegtenis geneem is vir sy aanhitsing tot moord nie?
“Waarom moes pres. Trump die president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, eers in sy kantoor kry om só ‘n flou uitspraak te kry dat Ramaphosa nie Malema se uitsprake steun nie? Almal in Suid-Afrika weet dat pres. Ramaphosa daaroor swyg en Malema nie teengaan of weerspreek nie. Almal in Suid-Afrika weet dat pres. Ramaphosa herhaaldelik steeds ontken dat daar iets soos plaasmoorde is.”
Mulder sê Ramaphosa het verlede week Nampo besoek waar daar ‘n gedenkmuur staan met die name van meer as ‘n duisend boere wat wreed vermoor is, maar volgens Mulder het Ramaphosa “verkies” om dit nie te besoek nie.
“Die uitreik van pres. Ramaphosa om ekonomies met Amerika saam te werk, moet verwelkom word. Beleggings en kapitale investering om die Suid-Afrikaanse ekonomie van verdere stagnering te red, is noodsaaklik. Daar moet egter goed verstaan word dat daardie beleggings en kapitale investering nie gaan realiseer solank as wat pres. Ramaphosa en die ANC bly vasklou aan uitgediende, mislukte en rasgegronde ekonomiese beleide soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), regstellende aksie (RA) en onteiening van eiendom sonder vergoeding nie. Solank as wat hierdie beleide die grondslag van regeringsbeleid bly, sal die RNE nie daaraan slaag om die ekonomie te laat groei, of broodnodige werksgeleenthede te skep nie.”
Hy sê die VF Plus sal voortgaan om die belange van die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika én in die buiteland te bevorder en te beskerm.
“Ons sal ook voortgaan om die nodige druk te plaas sodat die uitgediende rasgegronde ekonomiese beleide van die ANC wat op almal afgedruk word, beëindig en vervang word met ekonomiese beleide met ‘n bewese suksesrekord regdeur die wêreld.
“Pres. Ramaphosa het die boodskap hard en duidelik gekry oor wat fout is in Suid-Afrika. En van nou af sal die wêreld fyn dophou of daar ag geslaan word op die waarskuwings.”





