Brekende Nuus
Vermaak

Suid-Afrikaner wen Emmy vir virtuele realiteit-produksie

Foto: Kevin Kriedemann

Rick Treweek, Suid-Afrikaanse kunstenaar en wêreldbouer van Kommetjie, het ’n Emmy-toekenning gewen vir Uncanny Alley: A New Day. Dit is ’n virtuele realiteit-teaterproduksie wat die toekenning vir Outstanding Emerging Media Program by die 78ste Emmy-toekennings in Los Angeles gewen het.

Volgens Kevin Kriedemann van Plot Twist PR & Comms, het Treweek die Emmy op 5 September by die Peacock-teater in Los Angeles saam met die span van Ferryman Collective in ontvangs geneem. Die produksie is ’n samewerking tussen Virtual Worlds Company en die Los Angeles-gebaseerde Ferryman Collective. Dit word regstreeks binne VRChat opgevoer en speel af in Uncanny Alley, ’n virtuele heelal wat Treweek geskep het.

Treweek, wat in die virtuele wêreld as MetaRick bekend staan, het die virtuele wêreld in 2020 tydens die streng Covid-19-inperking in Johannesburg begin bou toe mense nie persoonlik kon sosialiseer nie. In Uncanny Alley: A New Day word gehore as ontsnapte aangehoudenes deel van ’n storie waarin hulle ’n korporasie moet ontvlug wat voorberei om inwoners se herinneringe uit te wis. Twee professionele akteurs vertolk 15 karakters intyds en geen twee vertonings is dieselfde nie.

Die produksie is onder meer by Venice Immersive, SXSW, Raindance Immersive en SIGGRAPH aangebied en het verskeie ander toekennings gewen. Treweek het ook onlangs by Continuum ’26 in Saoedi-Arabië uitgestal, waar hy Gh0st Out The Shell aangebied het. Die werk kombineer beeldhoukuns en virtuele realiteit om die verhouding tussen fisieke en virtuele identiteit te ondersoek.

Treweek sê hy het groot planne vir Uncanny Alley, waaronder speelgoed, 360-grade-koepelervarings en Steam-speletjies.

Kyk hier na ‘n voorskou van Uncanny Alley. Druk hier om meer op die webtuiste te lees.