GAUTENG. – Suliman Carrim het vandag in die Pretoriase landdroshof verskyn op ’n aanklag dat hy na bewering versuim het om voor die Madlanga-kommissie van ondersoek te verskyn nadat hy beveel is om dit te doen.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê Carrim is aangekla van ’n oortreding van artikel 6(1) van die Wet op Kommissies, Wet 8 van 1947. Volgens die NVG moes hy op 14 Augustus voor die kommissie verskyn het. Ná sy beweerde versuim is ’n strafsaak geopen en deur die kommissie se taakspan vir aanbevelings ondersoek. Hy is op 15 Oktober by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem, kort voordat hy na bewering op ’n internasionale vlug sou vertrek.
Die staat het Carrim se borgtogaansoek teengestaan. Die staat het aangevoer dat hy moontlik die verhoor sal ontduik en dat dit moeilik sal wees om hom op te spoor omdat sy adresse nog nie geverifieer is nie. Die saak is tot 19 Oktober uitgestel sodat dokumente wat deur die verdediging ingedien is, geverifieer en die borgtogaansoek voortgesit kan word.