Wilmien Davin vertel van haar geloofsreis ná die opspraakwekkende Kalahari-brand. Sanél Allerston maak haar hart oop oor die seer nadat haar man selfdood gepleeg het op hulle plaas. Chrisna Verwey skryf ’n hartroerende brief aan LiG-lesers nadat haar twee kleuters in hul motor verbrand het.
Die swaarkry wat dié vroue beleef het, laat jou snak na asem. Maar hulle elkeen se getuienis van hoe God hulle dra, gee jou hoop. Boonop is daar nog 40 ander getuienisse in dié spesiale LiG Getuig-tydskrif wat vanaf 11 April in uitgesoekte Spar-, Checkers- en Pick n Pay-winkels is.
KYK HIER: LiG – God se krag in my krisis se YouTube-kanaal
Gewone mense se buitengewone verhale
Die 74-jarige Koos Kruger getuig: “Daar ís lewe na die dood!” Koos het in 2018 sy hand met ’n hoekslypmasjien (angle grinder) afgesny en daarna het sy hart vir ’n tydperk gaan staan. In die tyd wat die dokter en ander mediese personeel gespook het om sy hart weer aan die klop te kry, vertel Koos hoe hy die hemel besoek het.
Gewone mense van Komatipoort tot Bellville deel hulle buitengewone stories van swaarkry, maar ook hoe God hulle krag in hulle lewenskrisisse gegee het.
‘Julle is die helde in ons spesiale uitgawe …’
Die hartroerende getuienisse het ook elkeen van LiG se redaksielede diep geraak. “Hierdie spesiale uitgawe is nie bloot ’n tydskrif nie; dit is ’n getuigskrif van God se krag in ’n krisis. En dis geskryf deur die dapperste mense wat ek ken: Almal wat hul hart en hul seer met LiG gedeel het,” vertel Maryke Hansen, LiG-inhoudvervaardiger wat ook betrokke is by die getuienis-video’s.
LEES OOK: Vrou nadat haar man hul albei skiet: ‘Ek is uiteindelik vry, al is ek in ’n rolstoel’
Francine Prins, redakteur van die gedrukte LiG sê: “In dié spesiale uitgawe van LiG loop ’n goue draad deur elke mens se storie wat hier vertel word – dankbaarheid. Elkeen getuig van ’n geloof wat gelouter is tot ’n suiwerheid wat slegs deur swaarkry se smeltkroes vermag kan word. En dan kyk hulle, vol dankbaarheid, na dit wat hulle uit God se hand ontvang het. Dit alles inspireer my om opnuut dankbaar te wees vir alles wat ek van Hom ontvang.”
“Ek wil dankie sê aan almal wat hul getuienis aan LiG toevertrou het. Julle is die helde in ons spesiale uitgawe. Julle leer ons hoe om aan God gehoorsaam te wees,” sê Conette le Roux, webredakteur en redakteur van LiG Getuig.
LiG Getuig kan ook vooraf bestel word hier. Kry 10% afslag op die rakprys van R110. Jy betaal dus net R99, en aflewering is gratis!
Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





