KWAZULU-NATAL. – ’n Vrou in haar vroeë dertigs, vier maande swanger, is laat Dinsdagaand ernstig beseer in ’n skietvoorval by die strandparkeerarea in Port Edward.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê noodspanne is omstreeks 22:30 na die toneel ontbied ná rapportering van ’n skietery. Met aankoms is ’n chaotiese toneel aangetref, met die beseerde vrou wat op die grond gelê het. Volgens voorlopige inligting het ’n rusie glo tydens ’n ontmoeting in ’n voertuig uitgebreek. Die vrou is na bewering geskiet toe sy probeer het om uit die motor te klim.
Lede van die nasionale seereddingsinsituut en die polisie was eerste op die toneel en het aanvanklike hulp verleen voordat paramedici oorgeneem het. Die vrou het ernstige interne beserings opgedoen en is in ’n kritieke toestand met gevorderde mediese sorg gestabiliseer. Sy is daarna na ’n hospitaal geneem.
Die polisie ondersoek die voorval, terwyl die motief en die identiteit van die skieter nog nie bevestig is nie.





