Brekende Nuus
Nuus

‘Perfect weather and nice swell’: Thys Lombard se laaste plasing ure voor sy dood

WES-KAAP. – “Perfect weather and nice swell to kick off the day!”

Dit was van die laaste woorde wat die bekende Stellenbosse fotograaf Thys Lombard Vrydag op sy Facebook-blad, Thys Lombard Photography, gedeel het voordat hy later dieselfde dag tydens die Vintner’s Surf Classic by Jongensfontein gesterf het.

Die 61-jarige Lombard het vanuit Jongensfontein ’n video gedeel terwyl hy vir die dag se verrigtinge gereed gemaak het.

“Getting ready for the #VintnerSurfClassic in Jongensfontein. Perfect weather and nice swell to kick off the day!” het hy geskryf.

In die video verwys hy ook na die geleentheid as van die “best days in the wine industry”.

Ure later het die vrolike plasing ’n plek van afskeid geword, met vriende, familie en mense uit die sportgemeenskap wat in die kommentaar hul ongeloof en hartseer oor sy skielike dood uitgespreek het.

“Maybe just one more coffee Thysie,” het Niel Germishuys geskryf.

Johan Kriel het Lombard as ’n “legend” beskryf, terwyl Paul Viljoen geskryf het: “Puik mens. Vreeslik hartseer. Gaan ons oomblikke agter die pale baie mis.”

Verskeie kommentare getuig van Lombard se besondere verbintenis met skolesport en die talle herinneringe wat hy deur sy kamera vasgevang het.

“Wat ’n verlies vir skolesport,” het Corne Spies geskryf.

Martell Husselmann het hom bedank vir die jare langs die rugbyveld en vir die foto’s en video’s wat hy van jong sportlui geneem het.

“Dankie Thys, ons was bevoorreg om jou altyd langs die rugbyveld te hê. Fotografie uit die boeke,” het sy geskryf.

Sy het ook vertel van hul gesprek ná Big Brag 2026 en bygevoeg dat sy nooit gedink het dit sou hul laaste gesprek wees nie.

Michelle Smith het Lombard beskryf as ’n wonderlike mens wat “full of the joys of life and sports” was en gesê haar gedagtes is by sy vrou en kinders, vir wie hy volgens haar besonder lief was.

Lieze van den Berg het geskryf: “Pragtige mens, jou liefde en passie gaan vir jare nog oor gepraat word!”

Anriette Lotze Bouwer het die hartseer kontras tussen Lombard se laaste video en die gebeure wat daarop gevolg het, opgesom: “Hartseer om te dink hier maak hy nog ’n video en later is hy oorlede.”

Reddingspoging by Jongensfontein

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê NSRI Stilbaai is Vrydag omstreeks 14:00 ontbied nadat berig ontvang is van ’n man wat bewusteloos in die brandersone was.

Mede-branderplankryers het Lombard na die strand gebring en onmiddellik met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin.

’n NSRI-reddingsboot wat naby die kompetisie was, het na die toneel gehaas en twee bemanningslede het aan wal geswem om met die resussitasiepogings te help.

NSRI-bemanningslede en paramedici het met uitgebreide KPR voortgegaan, maar Lombard is ondanks hul pogings op die toneel dood verklaar.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen en sy liggaam is aan die polisie en forensiese patologie oorhandig.

Die presiese oorsaak van sy dood is nog nie amptelik bevestig nie.

Bekende gesig langs die sportveld

Lombard het sy fotografie onder die naam Thys Lombard Photography gedeel en was vir baie mense ’n bekende gesig langs rugby-, atletiek- en ander sportvelde.

In hul huldeblyke vertel mense nie net van die foto’s wat hy geneem het nie, maar ook van die gesprekke, grappies en vriendskappe wat rondom sy werk ontstaan het.

Sonika Chalmers het hom beskryf as “sout van die aarde” en geskryf dat sy sy kuiertjies, atletiek en menswees sal mis.

Eugene Eloff se afskeidsboodskap was kort: “RIV my vriend… jy was ’n legende.”

En onder Lombard se laaste video, wat die dag begin het met die vooruitsig van goeie weer, goeie branders en nog ’n dag agter die kamera, het die boodskappe van afskeid bly instroom.