Die Kareedouw-gastehuiseienaar, Kevin Pretorius (53) is op 20 Februarie in die Ssreekhof in Gqeberha tot ’n effektiewe 10 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Die vonnis kom nadat hy in Januarie 2025 op twee aanklagte van moord skuldig bevind is. Mari Hoon (28) en haar verloofde, Jean Vosloo (25), het in April 2020 aan koolstofmonoksiedvergiftiging by sy Kliphuis-gastehuis gesterf.
Volgens die hof se bevindinge het Pretorius ’n foutiewe gasgeiser installeer. Pretorius het egter geen opleiding in installering nie. Die geiser het geen rookpyp gehad nie en die veiligheidsensor het nie gewerk nie. Dit het tot gevolg gehad dat giftige gasse in die badkamer opgehoop het. Koolstofmonoksied is reukloos en onsigbaar, wat die gevaar onopspoorbaar gemaak het
Getuienis het getoon dat Pretorius vooraf waarskuwings van gaste oor ’n gasreuk ontvang het. Hy het egter geen stappe geneem om dit reg te stel nie. Die hof het beslis dat hy sy sorgplig versaak het deur nie die veiligheid van gaste en werkers eerste te stel nie. Verder het die hof ook bevind dat hy geen ware berou getoon het nie.
Pretorius is tot 10 jaar tronkstraf op elke aanklag gevonnis, wat gelyktydig uitgedien word. Ingevolge die Wet op Vuurwapenbeheer is hy onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Verlof tot appèl is toegestaan, maar borgtog hangende appèl is geweier.
Die Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolging, mnr. Barry Madolo, het ná die uitspraak gesê:
“Hierdie saak beklemtoon die ernstige regsverpligtinge wat rus op individue wat fasiliteite bedryf wat vir die publiek oop is. Diegene wat veiligheidsstandaarde ignoreer en lewens in gevaar stel ter wille van finansiële gewin, moet verwag om deur ernstige strafregtelike gevolge in die gesig gestaar te word. Die NVG bly standvastig daartoe verbind om sulke oortreders aanspreeklik te hou.”
Bron: Luxolo Tyali
NVG-streekswoordvoerder
Oos-Kaapse Afdeling





