GAUTENG. – Twee verdagtes, onderskeidelik 15 en 18 jaar oud, het op aanklagte van moord en ontvoering van Ashley George (21) en Faizel Benns (16) hul eerste verskyning in die Randfontein-landdroshof gemaak. Die verdagtes se name word weerhou weens die jonger verdagte se ouderdom.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê die saak volg op ’n voorval op 24 Februarie by die Dumping Site- informele nedersetting, waar bendegeweld glo uitgebars het. Die slagoffers is volgens aanklagte met stokke aangeval. George het ter plaatse aan sy beserings beswyk. Albei jong mans is in ‘n mynput gegooi, nadat Benns glo probeer ontsnap het.
Die verdagtes is op 20 Maart in hegtenis geneem, nadat hul ouers hulle aan die polisie uitgelewer het. Die saak is tot 13 April uitgestel om vir die verdagtes regshulp te reël en ’n borgtogdatum vas te stel.





