LIMPOPO. – ‘n 16-jarige meisie se liggaam, onthoof en naak, is Vrydagaand in ‘n beboste gebied in Pharare gevind. ‘n 17-jarige tienerseun is die volgende dag in ‘n plaaslike hospitaal in hegtenis geneem.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 18:00 ‘n klagte ontvang dat ‘n vrou dood in die bosse gevind is. Met aankoms het die tienerseun self die beamptes na die meisie se liggaam gelei. Die meisie se kop is kort daarna naby die liggaam begrawe gevind. Die verdagte het aanvanklik beweer dat hy en die meisie deur gewapende persone in ‘n blou VW Polo ontvoer en na die beboste gebied geneem is. Hy het gesê hy het messteekwonde opgedoen voordat hy kon ontsnap. Speurders van die provinsiale moord-en-roofeenheid, die Mopani-opsporingspan en Maake-speurders, het egter die tienerseun tydens ondersoek as ‘n verdagte geïdentifiseer.
Aangesien die verdagte ‘n minderjarige is, sal ‘n proefbeampte ‘n beoordeling ingevolge die kinderbeskermingswet doen voordat hy in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.





