WES-KAAP. – ’n 18-jarige meisie en ’n 15-jarige seun het Saterdag by De Bakke-strand in Mosselbaai verdrink, nadat hulle in sterk seestrome beland het.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê André Fraser van NSRI-Mosselbaai het bevestig dat reddingspanne omstreeks 16:00 ontplooi is nadat ’n noodoproep van ’n verdrinking ontvang is. Reddingswemmers, paramedici, die polisie, brandweer en ander nooddienste het hulle na die toneel gehaas.
’n Groep van vyf jong mense het in die see geswem toe twee van hulle deur die sterk strome meegesleur is. ’n Plaaslike man op ’n lyfplank kon die meisie uit die water haal, maar sy is ondanks reddingspogings op die strand dood verklaar. Reddingsbote, duikers en hommeltuie is ingespan om na die seun te soek. Sy liggaam is eers Sondagoggend deur polisie-duikers gevind. Hy is ook op die toneel dood verklaar.
Die tieners se families word deur owerhede ondersteun. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen





