Brekende Nuus
Nuus

TMPD beskuldig van onwettige kragontkoppeling by kinderhuis

Foto: VF Plus

GAUTENG. – Die Tshwane-metropolisie (TMPD) word daarvan beskuldig dat beamptes Woensdag die elektrisiteit by die Paul Kruger-kinderhuis in Villieria onwettig ontkoppel het. Dit ondanks bewerings dat die instelling nie agterstallige skuld by die Tshwane-metro gehad het nie. Die VF Plus sê die optrede grens aan misdadigheid.

Volgens Peter Meijer, VF Plus-woordvoerder, het amptenare die kragboks oopgebreek en die hoofstroombreker verwyder. Die party beweer betaling is reeds gemaak voordat die elektrisiteit afgesny is. Daar is ook bewerings dat TMPD-beamptes die kinderhuis se bestuurder aangerand het toe hy teen die ontkoppeling beswaar gemaak het. Die VF Plus sê regslui berei ’n dringende hofaansoek voor en dat die party ’n ondersoek en dissiplinêre stappe in ’n brief aan Johann Mettler, die stadsbestuurder, geëis het. Die beweerde aanranding is nog nie onafhanklik bevestig nie.

Die VF Plus sê hy sal die saak monitor en verdere stappe doen om die regte van die kinderhuis, sy personeel en die kinders in sy sorg te beskerm.

Nuusflits het kommentaar van die Stad Tshwane gevra.