GAUTENG. – Die Tshwane-polisie het Donderdag tydens Operasie Shanela in Kameeldrift en Silverton 351 verdagtes in hegtenis geneem en op 11 tuk-tuks beslag gelê.
AO Marinda Austin bevestig aan Nuusflits misdaadbestryding is tydens die operasie versterk. Die vermeende verdagtes wat in hegtenis geneem is, sluit vier vir poging tot moord, drie vir gewapende rooftogte, 46 vir gewone aanranding, 50 vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en 52 vir aanranding tydens huishoudelike geweld, in.
Verder is 41 ongedokumenteerde buitelanders aan immigrasie-owerhede oorhandig. ‘n Totaal van 1 107 persone en 601 voertuie is deursoek. Vier misdaadbrandpunte en altesaam agt drankwinkels is besoek waar die nakoming van die drankwet geïnspekteer is. Daar is op 126 liter drank beslag gelê. Verkeersbeamptes het 70 Aarto-boetes ter waarde van R37 250 uitgereik. 11 tuk-tuks en ses minibusse is ook in beslag geneem.
Die geïntegreerde operasie is onder leiding van genl.maj. Samuel Thine, Tshwane-polisie se distrikskommissaris, beplan en uitgevoer en het verskeie polisie-departemente, die Tshwane-metropolisie, binnelandse sake, gemeenskapsveiligheid en gemeenskapspolisiëringsforums ingesluit. Thine het alle betrokkenes bedank, vir hulle samewerking en herbevestig dat wetteloosheid in Tshwane nie geduld sal word nie.








