Brekende Nuus
Wêreld

TV-aanbieder ter dood veroordeel in dwelmsaak

Foto: Sarah Khalifa

EGIPTE. – Sarah Khalifa (39), ‘n Egiptiese TV-aanbieder, is saam met 11 ander beskuldigdes deur ’n hof in Kaïro die doodstraf opgelê nadat hulle skuldig bevind is aan die vervaardiging van en handel in sintetiese dwelms. Hulle sal gehang word.

Khalifa, wat veral bekend is as die aanbieder van die misdaad- en veiligheidsprogram Mission Impossible, is in April 2025 in Kaïro in hegtenis geneem. Volgens die aanklaers het die groep grondstowwe uit die buiteland ingevoer om sintetiese dwelms te vervaardig en dit daarna vir verspreiding voorberei. Meer as 750 kg dwelms en grondstowwe is volgens die owerhede gekonfiskeer. Twee woonstelle wat glo as laboratoriums gebruik is, asook ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, is ook tydens die ondersoek gevind.

Khalifa het haar onskuld volgehou en die aanklagte ontken. Sy en die ander terdoodveroordeeldes het die reg om teen die uitspraak te appelleer.

Die hof het in totaal 28 beskuldigdes in die saak hanteer. Nege ander is tot lewenslange tronkstraf gevonnis, terwyl sewe vrygespreek is.

Bronne: IOL, Al Jazeera/AFP, ABC News