Brekende Nuus
Suid-Afrika

Twaalfjarige verdrink in plaasdam in KwaZulu-Natal

’n Twaalfjarige seun het verdrink nadat hy saam met vriende in ’n plaasdam in die Msinga-omgewing gaan swem het. Reddingspanne het sy liggaam later sowat drie meter onder die water gevind.

twaalfjarige verdrink plaasdam msinga
Foto: SAPD

MSINGA. – ’n Twaalfjarige seun het verdrink nadat hy laatmiddag saam met ’n groep vriende in ’n plaasdam in die Msinga-omgewing in KwaZulu-Natal gaan swem het.

Volgens die polisie het die seun in die moeilikheid beland terwyl hulle geswem het. Hy het nie daarin geslaag om weer bo die water uit te kom nie.

Polisieduikers van Pietermaritzburg en Port Shepstone, lede van die polisie se soek-en-reddingspan en die Pietermaritzburg K9-soek-en-reddingseenheid is na die toneel ontbied.

Die span het aanvanklik ’n soektog op die oppervlak met behulp van K9 Raven uitgevoer. Nadat die hond ’n aanduiding gegee het, is ’n duikoperasie begin. Die seun se liggaam is op ’n diepte van ongeveer drie meter gevind.

Die reddingspan moes die liggaam in ’n spesiale reddingsmandjie sowat drie kilometer ver dra tot by die naaste pad wat vir voertuie toeganklik was. Plaaslike gemeenskapslede het met die terugtog gehelp.

Die liggaam is aan die Msinga-polisie oorhandig. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen.

Bron: SAPD