WES-KAAP. – Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor bibberweer met twee kouefronte wat vanaf Sondag tot Dinsdag die Kaap sal tref. Die eerste front word Sondagoggend verwag, gevolg deur ‘n tweede een op Maandag.
Die Stad Kaapstad sê inwoners kan swaar reënval, plaaslike vloede, sterk winde en gevaarlike branders langs die kus verwag. Stedelike dienste is gereed om weersverwante voorvalle te hanteer. Inwoners word aangeraai om voorsorgmaatreëls te tref — maak geute skoon, kyk na dakke en na vir lekkasies of los plate, en maak losstaande items, soos tuinmeubels, vas. Mense in informele nedersettings kan slote grawe om water van hulle wonings weg te lei.
Vir diensversoeke, skakel 0860 103 089 of gebruik die Stad se webwerf of App. In noodgevalle, skakel die Openbare Noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700.





