GAUTENG. – ‘n Lykswa wat ‘n liggaam van ‘n oorledene vervoer het, was Donderdagmiddag in Clydesdalestraat in Springs in ‘n ongeluk betrokke. Die lykswa het aan die brand geraak met die bestuurder en die liggaam nog binne-in. Die liggaam van ‘n passasier is buite die lykswa langs ‘n groot boom wat geval het, gevind.
Zweli Dlamini, woordvoerder vir die Stad Ekurhuleni, sê Springs-metropolisie (EMPD) is omstreeks 16:20 na die toneel van die ongeluk. ‘n Lykswa wat ‘n oorledene vervoer het, het met die liggaam en die bestuurder aan die brand geslaan, terwyl die passassier dood langs ‘n boom aangetref is. Beide die bestuurder en passasier is dood verklaar.
Na bewering het die lykswabestuurder die liggaam by die hospitaal gaan haal met ‘n familielid van die oorledene as sy passasier. Die passasier het die lykswabestuurder gevra om te ry waar sy familielid gesterf het, “sodat hy sy gees kon gaan haal”. Die bestuurder het egter beheer oor die lykswa verloor en in ‘n boom vasgery.
Dlamini sê alle rolspelers is na die ongelukstoneel ontbied.





