LIMPOPO. – Die polisie in Bulgerivier in die Waterberg-distrik ondersoek twee afsonderlike sterftes nadat Arno Koen (44) en Caroline von Rantzou (26) binne twee dae dood op die luukse Leeuwfontein-jagplaas wat aan die Rantzou’s behoort, aangetref is. Von Rantzou was ‘n skatryk erfgenaam van ‘n familiemaatskappy in die skeepsbedryf. Koen het glo gehelp om die familie se finansies te hanteer.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Malesela Ledwaba, is twee geregtelike doodsondersoke geregistreer. Ledwaba sê volgens inligting het die voorvalle onderskeidelik op 31 Mei en 1 Junie plaasgevind. Tydens die eerste voorval Sondagmiddag omstreeks 14:00 is ’n man met ’n skietwond in die bors aangetref. Die presiese omstandighede van die voorval word ondersoek.
Die tweede voorval, waarvan die omstandighede ook ondersoek word, het die volgende oggend omstreeks 10:15 plaasgevind. Die polisie het as deel van hul ondersoek ’n gelisensieerde geweer en ’n pistool gekonfiskeer. Nadoodse ondersoeke sal nog gedoen word om die presiese oorsake van die sterftes vas te stel. Die polisie het aangedui dat sekere operasionele besonderhede van die ondersoek nie in hierdie stadium bekend gemaak kan word nie.
Genl.maj. Masingi, die adjunk- provinsiale kommissaris vir misdaadondersoeke, het intussen ook die toneel besoek om toesig oor die ondersoek, wat voortduur, te hou.
Die vroulike oorledene se pa is dr. Eberhart von Rantzau, ‘n Hamburg-skeepsmagnaat van Deutsche Afrika-Linien (DAL) and the John T. Essberger Group (JTE). Die Van Rantzou-familie is internasionaal verbind aan die Europese maatskappy in die chemiese tenkskeepvaartbedryf wat in Hamburg gevestig is en wêreldwyd bedrywig is. Lees meer in die maatskappy se nuusbrief van Oktober 2025 deur hier te druk. Dit is waar die nuwe generasie Von Rantzou’s, wat Caroline insluit, in die maatskappy aangekondig is.
Koen se afsterwe is deur Koen Accounting Solutions bekend gemaak: “Geagte Kliënte, Vriende en KAS Familie, dit is met groot hartseer dat ons u in kennis stel van die afsterwe van mnr. Arno Koen, direkteur van KAS. Ons wil u verseker dat die nodige kontinuïteits- en oorgangsmaatreëls reeds in plek is om die voortgesette bedryf van ons dienste en verpligtinge te verseker. Hierdie proses word ondersteun deur ‘n sustersfirma en die bestaande bestuurspan om stabiliteit en kontinuïteit gedurende hierdie tydperk te handhaaf. Ons waardeer u begrip, ondersteuning en respek vir die familie, kollegas en almal wat deur hierdie verlies geraak word. Indien enige verdere kommunikasie of inligting nodig sou wees, sal dit op die gepaste tyd gedeel word.
Vriendelike groete
KAS personeel
Hartbeespoort Marathon Club, Harties Red Bears Swimming Club en Mountain Cambridge School het medelye aan Koen se familie oorgedra met sy afsterwe.



Ekstra bronne: NDTV World, New York Post en Maatskappy Nuusbrief





