WES-KAAP. – Twee persone is Vrydag by Houtbaai-hawe in hegtenis geneem weens die onwettige voer en teistering van Kaapse pelsrobbe. Die Kaap die Goeie Hoop DBV het die operasie saam met die Stad Kaapstad se wetstoepassingsbeamptes en die departement van bosbou, visserye en die omgewing uitgevoer.
Die DBV sê die optrede volg ná herhaalde klagtes oor mense wat besoekers, insluitend kinders, teen betaling toelaat om gevaarlik naby aan robbe te kom vir foto’s. Kaapse pelsrobbe is beskermde diere en die voer, fisieke kontak met en teistering van robbe is volgens die toepaslike wetgewing strafbaar. Die DBV waarsku dat robbe mense kan byt en dat hondsdolheid ook by Kaapse pelsrobbe bevestig is. Enigiemand wat deur ’n rob gebyt of gekrap word, moet dringend mediese hulp kry.
Die DBV en sy vennote sal voortgaan met onaangekondigde inspeksies en operasies by die hawe. Besoekers word versoek om robbe van ’n veilige afstand af te besigtig en enige onwettige aktiwiteite by die DBV of wetstoepassingsbeamptes aan te meld.
Druk hier om meer te lees.

