WES-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) het skerp gereageer nadat drie aangehoudenes uit ’n geslote aanhoudingsel by die Strand-landdroshof ontsnap het – die tweede voorval in net meer as ’n week ná ’n soortgelyke ontsnapping by die Wynberg-landdroshof.
Volgens Nicholas Gotsell, DA-parlementslid vir veiligheid en justisie, is die herhaalde ontsnappings ’n aanduiding van sistemiese foute en moontlike kriminele samewerking binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). “Drie aangeklaagdes het eenvoudig verdwyn sonder enige teken van geforseerde toegang,” het Gotsell gesê.
Hy het bevestig dat die DA reeds ’n versoek aan lt.genl. Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, gerig het vir ’n verslag oor die Wynberg-voorval, en dat die party nou die parlementêre komitee oor veiligheid en justisie sal nader om beide die provinsiale kommissaris en die minister van korrektiewe dienste te laat rekenskap gee.
Gotsell het bygevoeg dat soortgelyke voorvalle, insluitend die arrestasie van hofpersoneel met dwelms in Kaapstad en Somerset-Wes, dui op ’n dieper probleem van korrupsie en swak beheer binne die stelsel. “Terwyl die Kaapse Vlakte onlangs swaar deur geweld en skietvoorvalle getref is, behoort die SAPD te fokus op die aanhouding van gevaarlike misdadigers, nie hul ontsnapping nie,” het hy gesê.
Hy het verder ’n onafhanklike ondersoek versoek wat die Kaapstadse metropolisie insluit en benadruk dat die oordrag van sekere polisie- en ondersoekbevoegdhede na bekwame metrobesture dringend oorweeg moet word. Volgens Gotsell lei die gebrek aan gevolge tot ’n kultuur van straffeloosheid. “In provinsies waar die ontslag van korrupte beamptes dikwels omgekeer word, weet baie polisiebeamptes hulle kan sonder gevolge optree,” het hy gesê.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die Strand-polisie ondersoek ’n saak van ontsnapping uit wettige aanhouding nadat drie aangehoudenes Maandag 27 Oktober uit die Strand-landdroshof ontsnap het. Die drie verdagtes, onderskeidelik 22, 25 en 34 jaar oud, is nog op vrye voet. “Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. ’n Span speurders en misdaadvoorkomingslede is saamgestel om alle inligting op te volg met die doel om die verdagtes weer in hegtenis te neem,” het Van Wyk gesê. Die ondersoek duur voort.
Sers. Wesley Twigg sê vier verdagtes, tussen 22 en 33 jaar oud, het Maandag 20 Oktober op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens, inbraak en ‘n lasbrief vir inhegtenisneming in die Wynberg-landdroshof verskyn. Ná hul verskyning het hulle uit aanhouding ontsnap. Twee van die verdagtes, Linda Soyeza en Toufieq Damon, is op 23 Oktober weer in hegtenis geneem. Soyeza het homself aan die polisie oorgegee, terwyl Damon op ’n perseel in Grassy Park vasgetrek is. ’n Derde verdagte, Mphumeleli Lufutha, is die volgende dag in Samora Machel in hegtenis geneem. Die Wynberg-polisie in Wynberg doen ’n beroep op die publiek om te help met die opsporing van ’n vierde verdagte wat steeds op vrye voet is. Enigiemand met inligting kan speur.sers. Abrahams by 079 498 9937 bel.





