OOS-KAAP. – Nelson Mandela-universiteit het ’n ondersoek begin na die dood van Sesethu Enhle Mboza (19), die tweedejaarstudent wat einde Oktober by buitekampus-akkommodasie glo aan haar eie hand gesterf het. Volgens Women For Change het Mboza glo haar eie lewe geneem na die beweerde verkragting deur ‘n medestudent. ‘n Saak is by die polisie oopgemaak, maar die beskuldigde is glo op borg vrygelaat.
Volgens prof. Sibongile Muthwa, visekanselier, het die voorval ’n groot invloed op die universiteit en sy studente gehad. Sy sê die ondersoek is daarop gemik om vas te stel wat tot Mboza se dood gelei het, asook om die doeltreffendheid van die universiteit se bestaande stelsels vir studente-ondersteuning en veiligheid te evalueer en om dit te versterk. “Die ondersoek sal help om te bepaal watter verdere maatreëls nodig is om studente se veiligheid, waardigheid en welsyn te beskerm,” het Muthwa gesê.
“Ons wil met hierdie proses Sesethu se nagedagtenis eer deur te sorg dat haar dood ons aanmoedig om nog meer na mekaar om te sien en om ’n gemeenskap te bou wat op empatie en menslikheid berus,” het Muthwa gesê.
Die universiteit het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om begrip en mededeelsaamheid te toon terwyl die ondersoek voortgaan.




