Brekende Nuus
Afrikaans

Veearts hospitaal toe ná voorval met olifant by Aquila

Foto: Aquila Private Game Reserve. Die olifant op die foto is nie noodwendig die olifant wat by die voorval betrokke was nie.

’n Veearts is Woensdag, 27 Augustus, na ’n hospitaal vervoer ná ’n voorval met ’n olifant by Aquila Private Game Reserve naby Touwsrivier in die Wes-Kaap.

Johan van Schalkwyk, kommersiële beampte van Aquila Collection, het die voorval aan Nuusflits bevestig.

“Ons bevestig dat ’n voorval waarby ’n veearts betrokke was, gister by die reservaat plaasgevind het. Die voorval het tydens ’n roetine-veeartsenykundige ondersoek van een van die olifante plaasgevind,” het Van Schalkwyk gesê.

Volgens hom is die betrokke veearts ’n eksterne diensverskaffer en nie ’n werknemer van Aquila nie.

“Onmiddellike mediese hulp is ná die voorval verleen en die veearts is na ’n hospitaal vervoer vir verdere mediese sorg.”

Aquila het aangedui dat hy nie die veearts se persoonlike of mediese besonderhede bekend sal maak nie.

Die olifant is volgens Van Schalkwyk nie tydens die voorval beseer nie en het geen verdere behandeling of ingryping as gevolg daarvan benodig nie.

Hy het gesê Aquila voldoen aan die toepaslike vereistes vir die rapportering van voorvalle waarby wild betrokke is, asook aan die tersaaklike regulatoriese prosesse.

Die omstandighede van die voorval word ook intern ondersoek.

Aquila het egter benadruk dat hy op grond van die inligting wat tans beskikbaar is, nie die voorval as ’n olifantaanval beskou nie.

“Dit was ’n ongelukkige voorval wat tydens ’n roetine-veeartsenykundige prosedure plaasgevind het,” het Van Schalkwyk gesê.

Volgens hom was Aquila se onmiddellike prioriteit die welstand van die veearts, terwyl die nodige operasionele en rapporteringsprosedures gevolg word.

Nuusflits het vroeër navraag gedoen oor die omstandighede van die voorval en die toestand van die veearts. Aquila het aangedui dat geen verdere persoonlike of mediese besonderhede in hierdie stadium bekend gemaak sal word nie.