NOORD-KAAP. – ’n Man (43) is Dinsdag deur die polisie met nege beeste en drie kalwers, ter waarde van sowat R150 000, wat vermoedelik gesteel is, naby Bothithong in hegtenis geneem.
Luidens ’n verklaring deur polisiewoordvoerder, kol. Cherelle Ehlers, spruit die inhegtenisneming uit ’n ondersoek deur die Kuruman-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies. ’n Klagte van veediefstal is op 19 Desember 2024 aangemeld nadat 24 beeste tussen 12 en 16 Desember by Deerwaard in Bothithong gesteel is.
Die ondersoek het die polisie na ’n nabygeleë veepos gelei waar die beeste deur die klaer uitgeken is. Die verdagte kon nie ’n bevredigende verduideliking vir die besit van die vee gee nie en is in hegtenis geneem.
Hy sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.







