GAUTENG. – Verdagtes wat glo mense ná banktransaksies teiken, het Donderdag kort voor 13:00 op die radar gekom, waarna een in ‘n skietery dood is. Inligting is ontvang oor verdagtes wat glo onderweg was om nuwe slagoffers in die Midrand-omgewing te teiken ná ‘n sogenaamde bank-agtervolgingsroof op 21 April in Pretoria-Noord.
Proshield Security sê tydens die roof in Pretoria-Noord is die slagoffer glo deur drie gewapende verdagtes in ‘n wit Toyota Urban Cruiser agtervolg en beroof. CCTV-beeldmateriaal is later ontleed, waarna die voertuig wat in die misdaad gebruik is, geïdentifiseer is. Met die inligting wat ontvang is, is beamptes na die Waterfall Corner-omgewing waar die verdagte voertuig, met vals nommerplate, in Woodmead-rylaand in die rigting van Woodmead gewaar is. Toe probeer is om die voertuig te stop, het die verdagtes weggejaag. Tydens die hoëspoed-jaagtog wat gevolg het, is glo op die beamptes geskiet, waarna hulle teruggeskiet het. Die jaagtog het in Tembisa geëindig. Een verdagte is noodlottig gewond, ’n tweede is gewond en na ‘n hospitaal geneem en ’n derde het te voet gevlug.
Die voertuig is geskut en daar is op twee 9 mm-pistole, handskoene en selfone beslag gelê wat by Rabie Ridge-polisiekantoor ingehandig is. Verdere ondersoek word gedoen om vas te stel of die verdagtes aan meer sake gekoppel kan word.
Proshield sê saam met die diens was die Tshwane-distrikspolisie se stabiliseringstaakspan, Lapua Strike Force, Anad Guard Std Bank, FADT, Vision Tactical, ABSA SVC Investigations, Monitor Net en Nightguard Security by die operasie betrokke.





