GAUTENG. – Loren Louw (47) het Maandag op 1176 aanklagte van geldwassery en oortreding van die wet op edelmetale ter waarde van R2.6 bn. in die Brakpan-landdroshof verskyn.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê Louw is aanvanklik op 26 Februarie 2015 met operasie Tarantula deur die ernstige georganiseerde misdaadondersoekeenheid in Noordwes gearresteer. Daar is op R2.5 m. se onverwerkte goud beslag gelê. Louw het vlugtig in die hof verskyn, waarna die saak vir verdere ondersoek teruggetrek is.
Mogale sê Louw is in Oktober gedagvaar om op die 1176 aanklagte in die hof te verskyn.
Die saak is tot 17 Maart 2025 uitgestel.





