VRYSTAAT. – Twee verdagtes, onderskeidelik 27 en 35 jaar oud, wat na bewering aan onlangse gewapende rooftogte by juwelierswinkels gekoppel word, is Dinsdag by die Vaal Plaza-tolhek in hegtenis geneem. Beide is in ‘n skietery met die polisie gewond.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens die Vrystaatse polisiebestuur is ’n gesamentlike operasie omstreeks 23:00 uitgevoer nadat ’n waarskuwing uitgereik is vir ’n voertuig wat glo vroeër die week in ’n gewapende roof in Bloemfontein betrokke was. Lede van verskeie polisie-eenhede en veiligheidsmaatskappye het die voertuig onderskep. Een van die verdagtes het glo ’n vuurwapen op beamptes gerig, waarna ’n skietery plaasgevind het. Beide verdagtes is op die toneel behandel en daarna onder polisiebewaking na ’n hospitaal geneem.
’n Deursoeking van die voertuig het twee 9 mm-pistole en ’n AK-47-geweer onthul, saam met ammunisie en juweliersware wat vermoedelik tydens die rooftogte gesteel is. Die toneel by Vaal Plaza is gefynkam vir leidrade en die ondersoek duur voort om moontlike skakels met ander voorvalle te bepaal.
Geen polisielede is beseer nie. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) is in kennis gestel.





