KWAZULU-NATAL. – Twee selfgemaakte springstoftoestelle is Maandagoggend omstreeks 01:30 by ‘n moskee in Kenneth Kaundastraat, Greenwood Park, gevind. Die verdagtes het op die vlug geslaan.
Brig. Jay Naicker sê die verdagtes was in die betrokke pad waar ‘n veiligheidsvoertuig aan die patrolleer was. Die verdagtes het glo die voertuig gesien, die toestelle in die perseel van die moskee gegooi en gevlug. ‘n Veiligheidswag het gesien iets word gegooi en het ondersoek ingestel. Die toestelle is gevind en owerhede is gekontak, wat op hulle beurt die polisie ontbied het.
Naicker sê tegnici van die polisie se bomeenheid het bevestig dit is selfgemaakte springstoftoestelle wat uit kommersiële springstof bestaan. Dit was egter nie opgestel om te ontplof nie.
“Daar word vermoed dat die mans na ‘n onbekende plek met die toestelle op pad was toe hulle deur die veiligheidsbeampte gesteur is.”
Die veiligheidswag wat die toestelle gevind en die owerhede gekontak het, word vir sy optrede geprys.
Ondersoek duur voort om die verdagtes op te spoor.
“Ons doen ‘n beroep op lede van die gemeenskap om sy voorbeeld te volg en nie enige verdagte toestelle op te tel wat hulle mag teëkom nie.”