KWAZULU-NATAL. – ’n Verhoor-afwagtende man (29) wat reeds in Gauteng in aanhouding was, verskyn vandag vir die moord op Inkosi Sphamandla Khumalo en sy vrou, Thuthukile Khumalo, in die Utrecht-landdroshof. Die inhegtenisneming is deur die polisie se Politieke Moorde Taakspan (PKTT) gedoen nadat ’n lasbrief bekom is.
Kol. Robert Netshiunda, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die egpaar is glo in Oktober 2023 langs die R34 naby Nhlazadolo in ’n hinderlaag gelei, aangeval en doodgeskiet terwyl hulle saam met hul vierjarige seun gery het. Volgens ondersoeke is die verdagte in Gauteng in hegtenis geneem vir ’n dubbele moord, insluitend dié van ’n polisiebeampte in Kagiso, waar hy glo ook met drie AK47-gewere betrap is. In ballistiese toetse is een van die wapens met die Khumalo-moord verbind. Die verdagte word ook met ander moorde in onder meer Richardsbaai verbind.





