NOORD-KAAP. – Die verhgoor van Jaco Dawid Malan Claasens (61) het in die Namakwaland-hof in Springbok begin, waar hy op twee aanklagte van moord en die onwettige besit van meer as 200 patrone teregstaan. Claasens het glo vir Coenraad Edward de Beer en James Kriel, twee vriende, in die vroeë oggendure van 31 Oktober 2023 op sy plaas naby Vioolsdrift doodgeskiet.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê De Beer en Kriel was vriende van Claasens en het saam met ander reisgenote onderweg na ‘n vakansiebestemming by die beskuldigde se plaas oorgebly. Albei is in die beskuldigde se woning geskiet en het op 1 November 2023 in die Mediclinic in Upington aan hul beserings beswyk. Die staat beweer die moorde was vooraf beplan, of was met voorbedagte rade gepleeg. De Beer en Kriel het skietwonde aan hul mae opgedoen.
Die polisie het 247 Beretta-haelgeweerpatrone op die plaas gevind. Claasens het skuldig gepleit op die ammunisie-aanklag, maar het ontken dat hy die twee mans doodgeskiet het. Die staat se eerste getuie, die seun van een van die oorledenes wat self die nag op die plaas was, het reeds getuig. Senior Advokate Adele van Heerden en Quinton Hollander vervolg namens die staat.
De Beer het met sy skietwond aan bloedverlies, hipovolemiese skok en multi-orgaanversaking gesterf. Kriel het met sy skietwond aan meervoudige nekrose, fassiïtis en sepsis gesterf.





