Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het verkeersbeamptes gewaarsku dat enigiemand wat tydens Paasfees omkoopgeld aanvaar, afgedank sal word. Indien daar gewerk word terwyl onder die invloed van alkohol, sal streng teen die individu opgetree word.
Adv. Makhosini Msibi, HUB van die korporasie, het die nasionale verkeerspolisie in Tshwane toegespreek voordat hulle op die paaie ontplooi is. Hy het die offisiere opgeroep om ’n verskil te maak deur die aantal padsterftes te verminder. “Ons kan nie toelaat dat mense onder ons is en vriende van misdadigers word nie. Mabahambe – laat hulle gaan,” het hy beklemtoon teen diegene wat dit sou waag om hulle skuldig te maak aan omkopery, korrupsie, misbruik van ‘n amptelike vuurwapen en dronk aan diens wees. Msibi het ook belowe dat diegene wat hul werk getrou doen, volle ondersteuning sal ontvang.
Dit word verwag dat verkeersvolumes vanaf Donderdag op alle hoofpaaie sal toeneem. Paaie wat besonder druk sal wees, sluit die N1 van Gauteng na Polokwane, N3 van Gauteng na KwaZulu-Natal, N14 van Gauteng na Mpumalanga, N2 van KwaZulu-Natal na Wes-Kaap, N6 van Oos-Kaap na Wes-Kaap in. Hoogs sigbare wetstoepassing sal op al hierdie roetes en alternatiewe hoofpaaie plaasvind.
Msibi herinner die publiek dat padveiligheid ’n gesamentlike verantwoordelikheid is en by elke individuele padgebruiker begin. Motoriste word aangeraai om alle padreëls te respekteer, spoed te beperk, alkohol te vermy en veilig te bestuur in woonbuurte om botsings met voetgangers te voorkom. Voetgangers word versoek om van hoofweë weg te bly, en verkeersbeamptes sal mense wat saamrygeleenthede op hoofpaaie soek, verwyder. Openbarevervoer-operateurs wat passasiers vervoer sonder permitte, sal swaar beboet word.






2 Responses
meonl6
Turn your network into income—apply to our affiliate program!