Brekende Nuus
Nuus

2 doodgeskiet tydens politieke veldtog

Foto: Ter illustrasie

KWAZULU-NATAL. – Twee mense, ‘n man en ’n vrou, is Donderdagmiddag doodgeskiet toe ’n groep wat aan ’n politieke deur-tot-deur-veldtog deelgeneem het, glo in Area 24 in Umgababa aangeval is. Die polisie het twee aanklagte van moord en drie van poging tot moord geopen.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê die groep, bestaande uit twee vroue, ’n man en hul twee lyfwagte, is van agter af deur ’n wit Isuzu-bakkie genader. Die insittendes van die bakkie het na bewering met gewere en pistole op die groep losgebrand. ’n Man en ’n vrou is op die toneel dood verklaar, terwyl een van die vroue glo haar been beseer het toe sy probeer weghardloop het. Die twee lyfwagte het van die toneel gevlug en was volgens die beskikbare inligting nog nie opgespoor nie.

Die motief vir die skietery is onbekend. Die polisie sluit nie politieke onverdraagsaamheid uit nie.