Padowerhede waarsku dat hoë verkeersvolumes hierdie naweek op alle hoofroetes verwag word. 21% van noodlottige motorvoertuigongelukke vind tussen 19:00 en 22:00 plaas en 6% tussen middernag en 01:00. Meer as 4 700 openbare voertuie is reeds weens permitoortredings geskut, terwyl nog 12 600 voertuie weens onpadwaardigheid van die pad verwyder is.
Luidens ‘n verklaring deur die padverkeersbestuurskorporasie word motoriste aangeraai om hul reis vooraf te beplan en nagbestuur te vermy. Reisdata vanaf 1 Desember dui aan dat motorvoertuigongelukke reg van voor veral gedurende bogenoemde tye plaasvind.
Wetstoepassers sal landwyd sigbaar bly om padveiligheid te handhaaf. Oortredings soos spoed, dronkbestuur en roekelose bestuur sal nie geduld word nie.
Bestuurders word gemaan om gereeld te rus om moegheid te voorkom. Openbare vervoeroperateurs word versoek om nie voertuie te oorlaai nie, geldige permitte vir hul roetes te hê en passasiers slegs by veilige plekke op en af te laai. Motoriste word verder aangeraai om weerstoestande dop te hou, volgafstand te vergroot en ligte aan te hou, asook om spoed in woongebiede en voetganger-digte gebiede, asook in reën, te verminder.





